Meisie (8) gebyt, verkrag
2012-04-25 19:02
Johannesburg – ‘n Agtjarige meisie is gebyt en verkrag en een van haar oë is uitgesteek in Gingindlovu, het die polisie in KwaZulu-Natal Woensdag gesê.
Haar aanvaller het haar in ‘n suikerrietveld langs haar huis ingesleep, waar haar ouma Maandag vir haar gewag het om terug te keer van die skool af, het kapt. Thulane Zwane gesê.
“Die agtjarige slagoffer kon skaars stap, maar het daarin geslaag om haarself tot in die erf voor haar huis te sleep voor sy inmekaar gesak het. Sy het haar skooluniform aangehad en sy was deurmekaar en vuil.” Die meisie is eers na ‘n kliniek geneem en toe na ‘n hospitaal.
“Hy het haar linkeroog uitgesteek en probeer om haar regteroog ook uit te steek, wat toegeswel was. Sy het uit albei oë gebloei,” het Zwane gesê.
“Die verdagte het haar ook in die nek gebyt, haar verkrag en haar hulpeloos op die grond laat lê.” Daar was ook ‘n poging om haar te verwurg.
‘n Vyftienjarige seun is in hegtenis geneem en sal binnekort in die hof in Gingindlovu verskyn. Die polisie ondersoek of hy vroeër die dag by ‘n aanval op ‘n Graad Ses-leerling betrokke was.
Gingindlovu lê sowat 60 kilometer suid van Richardsbaai.
Chris Maxon, woordvoerder van die departement van gesondheid in KwaZulu-Natal, het gesê die meisie is aanvanklik na die Eshowe Hospitaal geneem, maar is toe na die Ngwelezane Hospitaal in Empangeni oorgeplaas. Sy het laat Woensdagmiddag ‘n operasie ondergaan. Hy kon nie kommentaar lewer oor haar toestand of oor of sy nog sal kan sien nie.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA