Meisie (6) verdrink toe sy sus wou red
2011-01-06 10:30
Durban. – Minstens vier mense is die afgelope twee dae in KwaZulu-Natal dood en honderde families dakloos gelaat toe verskeie riviere hul walle oorstroom het weens aanhoudende reën.
Dele van die sakekerns van Ladysmith en Newcastle was Woensdag nog gesluit nadat riviere wat deur dié dorpe loop eergister in die vroeë oggendure hul walle oorstroom het.
Rampbestuurstrukture oor die provinsie heen is op die hoogste gereedsheidsgrondslag geplaas nadat daar die afgelope drie dae tot 204 mm reën op plekke geval het.
By Adams Mission suid van Durban het ’n sesjarige meisie gisteroggend verdrink toe sy haar vierjarige sussie uit vloedwater probeer red het.
Volgens Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het die twee sussies langs ’n rivier in vloed gespeel toe die vierjarige in die water geval het. Lede van die polisie se soek-en-reddingseenheid het later die sesjarige se lyk gevind, maar moes die soektog na haar sussie aflas weens die snelvloeiende water.
In die Durban-omgewing het dit gisteroggend by tye so hard gereën dat hy op pad na ’n kettingbotsing kon voel hoe sy voertuig se wiele die padoppervlak verlaat terwyl reënwater in strome in die N3-hoofweg afgekom het, het Botha gesê.
Ses vakansiegangers wat op pad terug was na Gauteng en Limpopo is gister omstreeks 10:00 by Shongweni buite Durban beseer toe hul drie voertuie in ’n kettingbotsing betrokke was.
’n Man van Limpopo is in ’n bedenklike toestand na ’n hospitaal gebring, terwyl twee mense ernstig beseer is.
Dr. Sibongiseni Dhlomo, waarnemende LUR vir vervoer, het motoriste gevra om baie versigtig te bestuur weens die reën en mis wat in die provinsie voorgekom en mense se uitsig by tye heeltemal belemmer het.
Die eThekwini-munisipaliteit in Durban het mense ook gewaarsku om eerder strandmere se mondings te vermy wat nog nie oopgespoel het nie.
In die Ladysmith-omgewing is drie mense die laaste paar dae weens die stortreën en vloede dood, het mnr. Simon Gumede, ’n bestuurder in die burgemeester se kantoor, gesê.
Dele van die sakekern was teen gistermiddag nog oorstroom. Minstens 150 huise in die streek is deur die reën en vloede beskadig.
In Newcastle het die Ncandurivier eergister omstreeks 01:00 sy walle oorstroom.
Talle laagwaterbrûe wat landelike gebiede met die dorp verbind, is weggespoel, het me. Nomsa Mtshali, munisipale woordvoerder, gesê.
In Durban en die Estcourt-omgewing is onderskeidelik 400 en 700 huise oorstroom. Honderde huise in townships in die Port Shepstone-omgewing is ook oorstroom.
- Beeld