Meisie (6) se moord goed beplan
2010-11-11 07:18
Beeld
Johannesburg - "Ek glo nie Satan sal so iets aan ’n kind doen nie,” het ’n gebroke Rudy Lohmann (26) van Brakpan Woensdagmiddag gesê ’n paar uur nadat hy sy sesjarige dogtertjie se lyk by die staatslykhuis in Johannesburg moes gaan uitken.
Klein Nicole Lohmann is deur haar tannie, Juriena (Renè) Pretorius (44), vermoor in ’n goed vooruitbeplande moord- en selfmoordplan in ’n hotel by die plesieroord Gold Reef City.
Pretorius het verlede week met ’n dierehospitaal gereël dat hulle haar vier honde en vier voëls moet kom haal om hulle van kant te maak.
Sy het ook Vrydag R250 000 getrek, geld wat sy van haar oorlede man geërf het nadat hy vroeër selfmoord gepleeg het.
Sy het koeverte met geld en name daarop gelaat in die hotelkamer waar sy en Nicole dood is, het Carol-Anne Cramond, Nicole se ouma, Woensdag vertel.
“Vir my is dit nog onwerklik dat daardie vrou so iets kon gedoen het. Jy doen dit nie aan iemand vir wie jy lief is nie. Hoekom moes sy Nicole se lewe ook geneem het?”
Volgens Cramond het Pretorius se bure gesê sy het Vrydag twee tasse in haar motor gelaai en Saterdag nog een. Pretorius was drie keer getroud en het geen kinders gehad nie.
Nicole se ma, Linda Lohmann, is dood toe sy 2 jaar oud was.
Pretorius was Linda se suster.
Mnr. Lohmann het eers geweier dat Nicole Saterdag saam met Pretorius gaan ná ’n geskiedenis van onmin tussen hulle en ’n obsessie wat Pretorius oor Nicole ontwikkel het.
Pretorius het egter verlede week in ’n verklaring by die polisie bewerings wat sy by die departement kinderwelsyn gemaak het dat die Lohmanns nie goed vir Nicole sorg nie, teruggetrek.
Sy het Lohmann en die welsynwerkers om verskoning gevra en gesê dit is veroorsaak deur haar emosionele toestand (ná haar man se dood).
Lohmann het toe na aanleiding van die verklaring en gesprekke met kinderwelsynwerkers besluit Nicole mag Saterdag haar tante besoek.
Die kinderwelsynbeanptes het aanbeveel dat Nicole wel haar tante behoort te sien omdat daar ’n band tussen hulle sou wees.
“Vrydagaand het Nicole gevra of tannie ‘Nay’ haar gaan terugbring, toe sê ek ja,” het Lohmann gesê.
Hy is ná Linda se dood met Yolandi (25) getroud en hulle het twee kinders, Ziane (amper 3) en Brandon (5 maande).
Lohmann sê die gesin het eers by Pretorius gebly, maar ná ’n rusie het hulle uitgetrek en by Cramond gaan bly.
“Dit is toe dat sy begin het met haar obsessie oor Nicole. Sy het die skool gebel en gesê haar ouers en ons kyk nie na haar nie.
Sy het die kinderwelsyn laat kom, maar niemand kon iets verkeerd vind nie, want daar was niks verkeerd nie,” het Cramond gesê.
Twee polisiemanne het Dinsdagmiddag laat by die Lohmanns se woonstel in Brakpan opgedaag en hulle ingelig die twee se lyke is in ’n hotel by Gold Reef City gekry.
Die personeel van die hotel het agterdogtig geword toe die twee sedert Saterdag nie uit hul kamer gekom het nie. Die polisie het die deur oopgebreek. Daar was geen uitwendige beserings aan die lyke nie.
Nicole word Dinsdag om 11:00 uit die Pinkster Protestantse kerk in Prins Georgestraat, Brakpan, begrawe.
- Beeld