Meisie (13) keel-af gesny, glo verkrag
2011-06-20 08:55
Trompsburg – Die grusame moord op ’n tienermeisie wat vermoedelik verkrag is voordat haar nek met ’n skerp voorwerp afgesny en haar lyk in ’n skaapwolsak versteek is, het inwoners hier woedend.
Griet Ranothwane (13) van die Madikgetla-woonbuurt se lyk is Saterdag om 14:50 in die veld langs Rooidam op die dorp gevind.
Haar gebroke tante, Cecilia Ntgogokoane (36), sê Griet was Vrydag nog skool toe. Sy was ’n leerling aan die Laerskool Madikgetla.
“Vir ons familie is daar gesê sy is ná skool dorp toe. ’n Man het haar in ’n winkel gekry en gesê hy sal haar by die huis gaan aflaai.”
Ntgogokoane sê Griet het nooit by die huis opgedaag nie.
“Ons het Saterdag gehoor haar lykie is by Rooidam gevind.”
Die familie is woedend en hartseer.
“Ons kan nie glo dat iemand so wreed kan wees nie. Sy was nog ’n jong meisie en altyd vrolik. Sy was ’n pragtige meisie. Hoe kan iemand so lelik met haar maak?” het sy gevra.
Inwoners van die dorp is woedend oor die moord.
“Dis nog ’n jong meisie in die fleur van haar lewe. Nou het ’n moordenaar eenvoudig besluit om haar lewe kort te knip en haar nie ’n kans in die lewe te gun nie,” het ’n ontstelde Kghotso Maema, ’n familievriend, gesê.
Kapt. Harry Nagel, polisiewoordvoerder, sê ’n 19-jarige verdagte is vir die moord en verkragting in hegtenis geneem.
Volksblad verneem die vermeende moordenaar is bekend aan die familie.
Hy verskyn Dinsdag in die landdroshof op Edenburg. Ranothwane word deur haar ma, mev. Mantla Ranothwane, oorleef.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad