Meeste werkers boikot staking
2011-08-15 21:54
Johannesburg – Meer as 85% van die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie (Samwu) se lede het ‘n staking oor loonverhogings in Gauteng Maandag geboikot, het die SABC berig.
Werkers het aan die uitsaaier gesê hulle het nie aan die staking deelgeneem nie vanweë korrupsie binne die “disfunksionele” provinsiale leierskap.
Hul werkgewer, die Suid-Afrikaanse vereniging vir plaaslike regerings (Salga), het gesê die vereniging is aangenaam verras deur die hoeveelheid vakbondlede wat vir werk opgedaag het.
“Ons het dit soortvan verwag. Ons het maatreëls in plek gestel vir ingeval ‘n situasie sou ontstaan waarin ons oorweldig is... maar die werkers het minstens in Gauteng nie ingekoop op die staking nie,” het Lance Joel, Salga se hoof van operasies, aan Sapa gesê.
Hy het gesê as die staking in Gauteng nie werkers lok nie, sal dit moeilik wees om dit in enige ander provinsie te doen.
Mthandeki Nhalapo, sekretaris-generaal van Samwu, het gesê hy kan nie kommentaar lewer oor deelname totdat hy terugvoer van die provinsies ontvang het nie.
Werkers oor die land heen het Maandag die strate ingevaar en ‘n loonverhoging van 18% geëis.
In Kaapstad het werkers teen asblikke geslaan en vullis aan die brand gesteek buite die stadsraad se kantore. In Bloemfontein het werkers vreedsaam aan ‘n optog na die Bram Fischer-gebou deelgeneem.
Nthatisi Modingoane, woordvoerder van die Stad Johannesburg, het gesê alle noodsaaklike dienste word ondanks die staking gelewer.
In Tshwane het slegs 17 persent van werkers versuim om op te daag vir werk. In KwaZulu-Natal het stakers by die huis gebly te midde van ysige weer in die provinsie.
Samwu-lede wil ‘n verhoging van 18% of R2 000 hê.
Samwu het ‘n aanbod van ‘n loonverhoging van ses persent verwerp. Milisa Kentane, woordvoerder van Salga, het gesê hul aanbod bly staan op 6,08 persent.
“Ons deure bly oop (vir praatjies). Maar 18 persent is bloot nie ‘n opsie nie. Ons munisipaliteite sal dit nie kan hanteer nie.”
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA