Meeste van Harrismith-slagoffers uitgeken
2011-12-11 16:36
Harrismith – Altesaam 24 van die 30 mense wat die naweek in 'n taxi-ongeluk op die N3 naby Harrismith dood is, is uitgeken, het die Vrystaatse polisie Sondag gesê.
"Die meeste van die slagoffers se families het van Tsolo, naby Mthatha, in die Oos-Kaap gekom om die lyke uit te ken," het sers. Mmako Mophiring gesê.
Die name van die slagoffers, wat tien kinders insluit, is egter nog nie beskikbaar nie omdat die papierwerk nog nie afgehandel is nie.
Die botsing tussen 'n oorlaaide taxi en 'n vragmotor het om 03:00 Saterdag plaasgevind. Altesaam 29 mense is op die toneel dood, onder andere 'n baba. 'n Ander kritiek beseerde passassier is later in die hospitaal dood.
Die ma van 'n 18 maande oue baba wat in die ongeluk beseer is, is volgens Mophiring onder van die oorlewendes in die hospitaal gevind.
Hy kon nie die hoeveelheid oorlewendes in die hospitaal bevestig of uitbrei oor hulle toestand nie, maar die vragmotorbestuurder is Saterdag ontslaan.
Die taxi het 35 mense vervoer, maar mag slegs 23 vervoer.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA