Meeste skole gaan nie vir vyf weke sluit
2010-06-01 06:55
Kaapstad – Meer as 50% van Wes-Kaapse skole het aangedui dat hulle vir die komende wintervakansie vrywillig twee weke later gaan sluit of ’n week vroeër gaan heropen.
Die amptelike vakansie is met die oog op die Wêreldbeker-sokkertoernooi vyf in plaas van drie weke lank.
Die Wes-Kaapse minister van onderwys, Donald Grant, het onlangs vakansieplanne vir leerders bekend gemaak. Hy het hulle aangemoedig om die vakansie te gebruik om die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) se winterskool- en tutoriale programme by te woon.
Dié programme sluit aan by die gr. 12-strategie, ’n program om die uitslae van onderpresterende skole te verbeter.
Die doel van die programme is om punte te verbeter in vakke met hoë toelating- en lae slaagsyfers, soos wiskunde, wetenskap, rekeningkunde, lewenswetenskap en geografie.
Ervare private of afgetrede onderwysers sal dit in 154 plekke in die agt distrikte aanbied.
Die WKOD se eenheid vir veilige skole sal verskeie kulturele, sport- en sosiale programme aanbied wat leerders onder meer oor ’n gesonde leefstyl, misdaadvoorkoming en leierskap sal leer.
Tien sentrums in Khayelitsha en vyf in Mitchells Plain sal beskikbaar wees vir leerders wat ’n stil leeratmosfeer vereis.
?Kommer heers in die Kaapse Streekkamer van Handel en Nywerheid (KSHN) dat groot getalle mense tydens die Wêreldbekertoernooi om verlof gaan aansoek doen.
Bestuurders moet met werknemers oor verlof gesels en tot ’n vergelyk kom wat albei partye sal pas, het Albert Schuitmaker, uitvoerende direkteur van die KSHN, gesê.
Volgens hom het hulle uit vorige ervaring gesien dat mense wat nie geldelik in staat is om kinders tydens skoolvakansies in dagsorgsentrums te plaas nie, eerder verlof neem om na kinders om te sien.
Dit kan groot implikasies vir ondernemings in veral die dienssektore inhou.
- Die Burger
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger