Meer wil landuit oor Julius
2011-06-24 08:13
Johannesburg – Al hoe meer Suid-Afrikaners soek ’n heenkome buite die landsgrense weens die uitsprake van Julius Malema, president van die ANC-jeugliga.
Verskeie emigrasie-agentskappe het aan Beeld bevestig hulle het die afgelope maand en veral die laaste paar dae tot 20% meer navrae oor emigrasie gekry.
Robbie Ragless, ’n bestuurder van Globalvisas, het gesê hulle kry sowat 300 navrae per dag van Suid-Afrikaners wat wil emigreer.
“Misdaad en hul kinders se veiligheid is twee van die groot redes waarom mense wil emigreer, maar die laaste tyd het mense al hoe meer begin hamer op politiek en spesifiek Julius Malema.
“Sy (Malema se) hofsaak en ook sy herverkiesing as leier van die ANC-jeugliga is wat die mense al hoe meer wil laat emigreer.
“Die drie lande waarheen Suid-Afrikaners die meeste gaan, is Kanada, Australië en Nieu-Seeland,” het Ragless gesê.
Die meeste aansoeke kom van wit Afrikaanssprekendes en sowat 20% van swart mense.
“Hul redes is gewoonlik dat hulle beter onderriggeleenthede wil hê.”
John Gamberana, ’n vennoot van Trans Global Migration Services, het gesê hulle kan amper ’n regstreekse verband trek tussen hoe besig hul telefone is en wanneer Malema “weer dinge kwytraak”.
Gamberana het gesê weens die resessie het minder mense in 2009 en 2010 geëmigreer omdat werkgeleenthede vir Suid-Afrikaners nie so vrylik in die buiteland beskikbaar was nie.
“Ons het in die afgelope maand en dié maand ’n definitiewe toename in aansoeke gesien. Dit is selfs meer as ’n 20%-toename.
“In mense se gesprekke met ons personeel noem hulle veral Malema se naam as een van die redes hoekom hulle wil gaan.”
Paolo Jonker, ’n bestuurder van Four Corners Emigration, het gesê belangstelling om die land te verlaat het in die laaste tyd skerp toegeneem.
“Ek hoor al hoe meer die naam Julius Malema. Mense sê hulle wil nie hul kinders grootmaak waar daar nie vir hulle ’n toekoms is nie. En misdaad is steeds ’n groot, oorwegende faktor in mense se besluit om te emigreer,” het Jonker gesê.
Alana Bailey, uitvoerende adjunkhoof van AfriForum, het gesê al hoe minder Suid-Afrikaners wil as deel van dié organisasie se Kom Huis Toe-veldtog na die land terugkeer.
“Malema speel ’n rol in dié mense se besluit. Nog ’n faktor is die ekonomiese toestand en mense sê hulle sal eerder oorsee swaarkry as in Suid-Afrika.”
Pravin Gordhan, minister van finansies, het Donderdag toegegee dat die ANC-jeugliga se radikale planne vir die nasionalisering van myne en die herver- deling van grond beleggers kan afskrik.
“Beleggers werk op grond van wat ’n land kan bied, of dit nou langtermyn-opbrengste, logistieke voordeel of markvoordeel is. In ons geval gaan dit ook oor hoe Suid-Afrika hulle kan help om in Afrika te kom.
“So ja, vrae sal in sommige beleggers se gedagtes bly,” het Gordhan in ’n onderhoud by die parlement gesê, berig Anesca Smith.
“Beleggers weet dat ons op makro-ekonomiese vlak taamlik stabiel is vergeleke met die res van die wêreld. Hulle sal dít moet opweeg teen sommige van die debatte wat ons die laaste ruk in die openbare domein gehoor het.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld