‘Meer swart stemme nodig teen uitsprake soos dié’
2011-08-03 09:22
Kaapstad – Hoëprofiel- swart mense behoort hul stem dik te maak teen uitsprake van mense soos die rubriekskrywer Eric Miyeni.
Só het Lindiwe Mazibuko, DA-LP en die party se nasionale woordvoerder, gister gesê.
“Daar is nie genoeg vooraanstaande swart mense wat opstaan teen die uitlatings van die Eric Miyeni’s nie.”
Mazibuko was die genooide spreker op ’n byeenkoms van die Kaapse Persklub en is gevra om te praat oor die vraag of die Suid-Afrikaanse politieke landskap slegs om swart politiek gaan.
“Swart mense behoort na te dink of hulle te vinde is daarvoor dat daar rekenskap van die regering geëis word, en of hulle dit eerder as ’n persoonlike aanval beskou,” het sy gesê.
“Diegene wat Miyeni gelyk gee, vrees dat swart mense steeds as minderwaardig beskou word.”
Miyeni, afgedankte rubriekskrywer van die Sowetan, het Maandag ’n skerp bewoorde aanval op City Press se redakteur, Ferial Haffajee, gedoen.
Hy het haar onder meer daarvan beskuldig dat sy “onmin onder swart mense saai”. Sy uitlatings volg nadat City Press onlangs berig het dat die ANC- jeugleier, Julius Malema, ’n trustfonds het wat glo sy swierige leefstyl finansier.
Miyeni het voorts gesê Haffajee en City Press het die bewerings oor Malema versin.
Volgens Mazibuko wil dit voorkom of Miyeni meen swart mense moet toegelaat word om te doen wat hulle wil.
Sy het kommentaar gelewer op Miyeni se standpunt in sy rubriek dat swart politici toegelaat moet word om tenderkontrakte van die regering te kry omdat die private sektor hulle uitsluit.
Mazibuko is gister in vraetyd gepols of sy haarself beskikbaar sal stel vir die DA se parlementêre leierspos en of sy die voorkeur-kandidaat van die partyleier, Helen Zille, is.
“As Helen Zille my steun, het sy dit nog nie aan my gesê nie,” het Mazibuko geantwoord.
Sy het voorts gesê sy het nog nie besluit of sy haarself beskikbaar sal stel nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger