Meer slaag glo oor maklike vraestelle
2011-02-11 09:10
Pretoria - Te maklike vraestelle en memorandums, ingrypingsprogramme wat matrikulante vir die eindeksamen “afgerig” het en meer leerders wat wiskundige geletterdheid pleks van wiskunde geneem het.
Dít is van die moontlike redes vir die onrealistiese styging van sewe persentasiepunte in verlede jaar se matriekslaagsyfer, aldus ’n omvattende ontleding wat die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) pas afgehandel het.
Die SAOU het onder meer gekyk of daar ’n verband is tussen die uitslae en die sowat 300 opleidingsgeleenthede wat hy jaarliks teen ’n koste van R6miljoen vir sowat 18000 onderwysers aanbied, en of dié vakbond en sy lede tot gehalte in openbare onderwys bydra.
Dit het geblyk die slaagsyfer van skole waar die SAOU lede het, was tot 25% beter as die nasionale syfer van 67,8%.
Skole wat byvoorbeeld ’n hoof het wat ’n SAOU-lid is, het ’n gemiddelde slaagsyfer van 94,5% behaal en skole met vier tot nege SAOU-lede, maar waar die hoof nie ’n lid is nie, ’n slaagsyfer van 87,4%.
Dr. Gustav Niebuhr, kurrikulumkundige by die SAOU, het gesê die vakbond bevraagteken sekere redes wat vroeër vir die verbeterde slaagsyfer voorgehou is, omdat ’n statistiese ontleding ’n ander prentjie wys.
Sommige ontleders het gesê die slaagsyfer is beter omdat hoofde moontlike druipelinge terughou.
In 2009 het 552073 kandidate matriek geskryf en 51,3% was die vorige jaar in gr.11. Verlede jaar het 537543 kandidate matriek geskryf en 63,2% van hulle was die vorige jaar in gr.11. Dus sou meer leerders in 2009 “teruggehou” kon geword het as verlede jaar.
Die argument dat die slaagsyfer beter was omdat meer leerders as deeltydse in plaas van heeltydse kandidate ingeskryf was, hou ook nie water nie.
In 2009 het 580937 leerders vir die eindeksamen geregistreer en 552073 (95%) het dit geskryf. Verlede jaar het 559166 geregistreer en 537543 (96,1%) het geskryf.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger