Meer skole kan sluit as wit onnies staak
2010-08-22 07:13
Die situasie by skole kan môre vererger wanneer die oorwegend wit, Afrikaanse lede van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) ook begin staak nadat dié unie Donderdag aangedui hy is ook verbind tot die staatsdiensstaking.
Nagenoeg 1 700 van die sowat 25 000 staatskole in die land moes die afgelope week hul deure sluit weens die staking wat Woensdag begin het, sê Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas).
Verskeie skole in die volgende dorpe en streke is om veiligheidsredes gesluit: Gauteng se Vaaldriehoek-omgewing, Tshwane, die Oos-Rand, KwaZulu-Natal se Suidkus, Kimberley, en verskeie dorpe in die Oos-Kaap.
By skole in Noordwes het leerlinge stakende onderwysers verjaag wat hulle probeer keer het om skool toe te gaan, sê Colditz.
“Die meeste skole word nie deur die staking geraak nie, maar niemand kan met sekerheid sê wat die impak gaan wees as die staking onbepaald voortduur nie,” sê Colditz.
“Beheerliggame word versoek om toe te sien dat daar te alle tye behoorlik toesig is oor leerders, en dat skole dadelik gesluit word wanneer kinders se veiligheid bedreig word. Ouers word versoek om te help, waar moontlik.”
Intussen sukkel private hospitale om al die siekes te hanteer wat weens die staking deur staatshospitale na hulle verwys word.
“In sekere gebiede plaas dit geweldige druk op private hospitale,” sê dr. Mark Sonderup van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging. “Ons is bekommerd oor die impak van ’n onbepaalde staking, want private hospitale het op die lang duur nie kapasiteit hiervoor nie.”
Paramedici van private ambulansdienste was die afgelope week die grootste slagoffers van die staking, sê Sonderup. “Hulle is gedreig wanneer hulle pasiënte by staatshospitale probeer aflaai het.”
Stakers het verpleërs en ma’s by Gautengse hospitale belet om hul babas – wat nie gevoed is nie en met vuil doeke lê en huil het – te besoek. Minstens sewe pasiënte, onder wie drie babas, is sedert Woensdag in staatshospitale in Gauteng en Mpumalanga dood.
Dokters word gedreig wanneer hulle by hospitale opdaag.
Hulle moet na honderde pasiënte omsien omdat daar geen verpleegpersoneel is nie. Slegs noodoperasies word uitgevoer.
- Rapport