Meer ongelukke weens padwerke
2009-11-26 07:17
Carina van Wyk
Johannesburg - RoadCover, ’n organisasie wat van die Padongelukkefonds (POF) eis, beweer die huidige padwerk op Suid-Afrikaanse paaie dra by tot ’n styging in padongelukke en die gepaardgaande beserings en sterftes.
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) reken egter die verontagsaming van padtekens waar paaie onder konstruksie is, is ’n groter bydraer.
Eugene Beck, uitvoerende hoof van RoadCover, het Woensdag in ’n verklaring gesê dié organisasie verwerk vanjaar sowat 20% meer POF-eise as vroeër jare, “hoofsaaklik weens padwerkverwante ongelukke”.
Beck beweer swak aanwysingsborde, betonafsperrings en bane wat nouer as gewoonlik is, is die hoofredes vir die ongelukke. Voorts het hy gesê ’n tekort aan wetstoepassing en motoriste wat dus nie spoed verminder wanneer hulle padwerk nader nie, dra ook daartoe by.
Willem van der Merwe, ’n Sanral-bestuurder vir beplanning, ontwerp en konstruksie, het gesê padwerk het die potensiaal om ongelukke te laat toeneem en daarom word die spoedgrens verlaag en “tekens op ’n geel, hoogs sigbare agtergrond word in oorvloed gebruik om motoriste van ongewone situasies bewus te maak”.
Volgens Van der Merwe lei die verontagsaming van dié padtekens tot ongelukke. “Spoed en padgebruikers se gedrag is steeds ’n ernstige probleem.”
Motoriste ignoreer gereeld padwerkers of maak ’n bespotting van hulle, het hy bygevoeg.
“Mense skel of maak of hulle die ouens uit die pad gaan ry. Padwerkers is al byvoorbeeld met kramgewere geskiet.”
- Beeld