Meer inbrake ná seun rower tref
2010-11-22 09:50
Beeld
Welkom. – “Ek weet nie of hulle agter my kind aan is omdat hy die rower geskiet het en of dit net inbrekers is nie.”
So sê mev. Jackie Vermeulen van Naudéville wie se seun Riaan, 16, Vrydagoggend ’n rower met sy eie vuurwapen geskiet het.
Sedertdien was daar drie pogings om by die Vermeulens se huis in te breek en iemand het met kryt ’n rooi kruis op ’n boom voor hul huis getrek.
Vermeulen en haar gesin is nog in Bloemfontein waar haar man, ook Riaan, ’n operasie moes ondergaan nadat die rower hom in die bene geskiet het.
“Dit gaan goed met my man.”
Sy sê haar buurvrou het haar gebel en vertel daar was Saterdagoggend iemand by hul (die Vermeulens se) hek.
“My buurman het vir hulle geskree en hulle het weggehardloop. Die volgende oggend het hy die kruis op die boom gesien en plastiekbottels op die hek.
“Saterdagaand het die alarm afgegaan en vroeg gisteroggend weer. Die veiligheidsbeamptes het weer van die bottels op die hek gekry.”
Die bottels word vermoedelik gebruik om oor die skerp veiligheidstralies te kan klim.
Vermeulen sê daar is nou ’n veiligheidswag in haar erf én die polisie hou die huis dop.
Sy sê haar seun Riaan kry berading en sal nie sy eksamens nou kan voltooi nie.
“Hy is nog baie emosioneel, maar sê as hy weer in dieselfde situasie is, sal hy weer skiet om sy gesin se lewens te red.”
Die Vermeulens is vroeg Vrydagoggend deur twee mans, een met ’n vuurwapen, in hul huis oorval.
Een van die rowers het mnr. Vermeulen in die bene geskiet en Riaan het sy pa te hulp gesnel en die rower met sy eie vuurwapen geskiet.
Een rower het weggekom en die gewonde rower het in die bure se erf inmekaargesak.
Hy is in ’n kritieke toestand in die Bongani-hospitaal in Welkom.
Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld