Meer as 75 000 rybewyse in 5 jaar gekanselleer
2011-12-29 20:45
Pretoria – Meer as 75 000 rybewyse is in die laaste vyf jaar gekanselleer, terwyl meer as 3 000 bestuurders se rybewyse opgeskort is, het die departement van vervoer Donderdag gesê.
Altesaam 75 722 rybewyse en professionele bestuurspermitte is tussen 2006 en 27 Desember 2011 gekanselleer en 3 049 is opgeskort, het Logan Maistry, 'n woordvoerder, in 'n verklaring gesê.
Hierdie jaar alleen is sowat 10 945 rybewyse en professionele bestuurspermitte gekanselleer en 'n verdere 607 opgeskort.
Die meeste van vanjaar se kansellasies was in Gauteng (3 047), gevolg deur die Wes-Kaap (2 815) en KwaZulu-Natal (1 497).
Die meeste opskortings was in die Wes-Kaap (166), gevolg deur KwaZulu-Natal (159) en die Oos-Kaap (140).
Meer as 1 434 motoriste is sedert die begin van die feesseisoen oor die land heen in hegtenis geneem, insluitend 501 vir dronkbestuur, 420 omdat hulle nie geldige permitte vir openbare vervoer gehad het nie en 104 vir die oorlaai van voertuie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA