Meer as 600 SA'ners in buitelandse tronke aangehou
2011-12-13 12:42
Kaapstad – Meer as 600 Suid-Afrikaners word in buitelandse tronke aangehou weens beweerde dwelmsmokkelary.
Volgens die Locked-up veldtog, 'n groep wat hom beywer vir die oorplasing van gevangenes oorsee na Suid-Afrika, is agttien Suid-Afrikaners die afgelope maand in agt verskillende lande in hegtenis geneem.
Die lande is onder meer Indië, Doebai, Nieu-Seeland, Brasilië, Malawi, Argentinië, Mosambiek en Hong Kong.
In die jongste voorval is 'n Suid-Afrikaanse vrou, Nobanda Nolubabalo (23), op Bangkok se Internasionale lughawe in hegtenis geneem.
Die polisie sê sy het 1,5 kg kokaïene in haar rastalokke versteek.
Nolubabalo het reeds skuld beken.
Volgens berigte is sy vir 60 000 baht gehuur om die kokaïene aan 'n kliënt by 'n hotel in Bangkok af te lewer.
Nolubabalo se inhegtenisneming volg enkele ure nadat die 35-jarige Janice Bronwyn Linden in China vir dwelmsmokkelary tereggestel is.
– RSG.
– Volg Nuus24 op Twitter.