Meer as 45 stakers vas vir geweld
2012-09-27 22:45
Johannesburg – Meer as 45 vragmotorbestuurders is Donderdag in hegtenis geneem, met die nasionale staking wat sy vierde dag betree het, het die verkeerspolisie in Gauteng gesê.
Verskeie mense is landswyd in voorvalle beseer sedert die protesaksie Maandag begin het.
“Aanklagte sluit in onwettige betogings... en openbare ontwrigting. Dit het gelei tot ‘n ernstige ongeluk,” het Bufaphi Nxumalo, hoof van die verkeerspolisie, gesê.
“Ons gaan voortgaan om hulle in hegtenis te neem, veral as hulle die publiek ontwrig en sonder toestemming betoog.”
Sowat 20 van diegene wat in hegtenis geneem is, is op die R21 in Ekurhuleni, oos van Johannesburg, in aanhouding geneem.
Sowat 20 000 werkers in die vragvervoerbedryf staak sedert Maandag oor lone.
Die R21 en R24 naby die OR Tambo Internasionale Lughawe is vroeg Donderdagmiddag weer vir verkeer oopgemaak. Stakende vragmotorbestuurders het veroorsaak dat die pad gesluit word nadat hulle klippe gegooi en vragmotors aan die brand gesteek het, het die metropolisie gesê.
“Motoriste word aangeraai om baie versigtig te wees,” het insp. Kobeli Mokheseng, woordvoerder van die Ekurhuleni-metropolisie, gesê.
Hy sê die polisie vermoed dat kriminele elemente die staking geïnfiltreer het.
Vier mense is glo beseer tydens die geweld.
Drie mense is omstreeks 07:00 naby die R21 beseer toe stakers die pad versper en klippe na vragmotors gegooi het.
Rogers Mamaila, woordvoerder van die Ekurhuleni-nooddienste, sê ‘n vragmotorbestuurder wat nie gestaak het nie, het sy been gebreek ná ‘n ongeluk wat deur stakers veroorsaak is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA