Meer as 100 metrolede in Pretoria is misdadigers
2011-02-26 07:45
Beeld
Pretoria - Meer as 100 Tshwane-metropolisielede is misdadigers.
Een van hulle is die laaste paar jaar aan 13 misdade skuldig bevind en is verhoorafwagtend in nog nege sake.
Dit is van die skokkende syfers wat in ’n interne dokument van Tshwane se departement van gemeenskapsveiligheid verskyn.
Die dokument, wat ’n lang lys name van metropolisielede met ’n misdaadgeskiedenis bevat, is in Oktober verlede jaar opgestel.
Sommige van die lede is al skuldig bevind aan oortredings soos aanranding, verkragting, onsedelike aanranding, openbare geweld, diefstal, bestuur onder die invloed van drank en minagting van die hof.
’n Vorderingsverslag oor die getal onafgehandelde interne tugsake het eergisteraand op ’n raadsvergadering voor die metroraad gedien.
Karen Meyer, die DA se woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid, het gesê sedert 2007 is 510 tugsake nie afgehandel nie. “Wat het daarvan geword?”
Sy het inligting bekom wat toon dat 240 interne sake tussen Januarie 2010 en Junie 2010 teen metropolisielede aangemeld is. “Dit sluit in 10 sake van omkopery, 29 van korrupsie, 6 van bedrog en 2 van poging tot moord.”
William Baloyi, woordvoerder van die departement van gemeenskapsveiligheid, het toegegee daar was in die verlede vertragings met tugsake.
“Dit beteken nie dat die koeël deur die kerk is nie. Ernstige sake, soos poging tot moord, gaan weer in oënskou geneem word.”
Volg Nuus24 op Twitter