Medisyne gou bitter en duur pil om te sluk
2010-09-12 09:08
Johannesburg - Medisyne gaan nóg meer onbekostigbaar word, waarsku mediese fondse en
verbruikerskampvegters oor die konsepregulasies oor resepteringstariewe.
Hiervolgens
kan aptekers binnekort hul resepteringstariewe vir medisyne aanpas
volgens ’n viervlakkige stel formules wat “deursigtigheid en billikheid”
moet verseker.
Só kan medisynepryse dan bereken word op die
eenheidskoste wat ’n apteker aan ’n verskaffer betaal, plus ’n
vasgestelde maksimum persentasie wins, plus ’n verdere nominale heffing.
As medisyne byvoorbeeld R75 kos, sal die apteker die verbruiker R115,50 (R75 + 46% + R6) daarvoor sal vra.
Ina Wilken van die Nasionale Verbruikersforum het aan Rapport gesê
volgens hul berekeninge gaan medisyne daardeur duurder word.
“Die
voorgestelde stelsel het vier vlakke wat elkeen ’n maksimum tarief
voorskryf. ’n Mens kan mos nou redeneer aptekers sal die maksimum tarief
vra om wins te verhoog en siekefondse het reeds aangedui hulle gaan nie
die bykomende koste dra nie.”
Rajesh Patel van die Raad op Gesondheidsfinansiers (BHF) het gesê die bepaling van maksimum pryse is kommerwekkend.
“Dit
beteken aptekers kan ’n maksimum prys vra vir medisyne wat goedkoper
kán wees. Ons kom van ’n lae basis af omdat die prysbepaling vyf jaar
lank onveranderd was. Skielik is dit ’n groot sprong om aan gewoond te
raak.”
Hoewel die “voorspelbaarheid” van pryse verwelkom word,
hou Patel vol medisyne sal duurder word en die verbruiker se sak sal
twee keer geraak word: by die betaalpunt en met verhoogde
mediesefondstariewe.
“Ons reken ’n bykomende R2 miljard of ’n verhoging van sowat 4% kan jaarliks aan resepteringstariewe bestee word,” aldus Patel.
Ivan Kotzé, medekoördineerder van die Aptekersbelangegroepforum, sê
hoewel die voorgestelde stelsel maksimum tariewe bepaal, beteken dit nie
aptekers gaan nou skielik die duurste moontlike pryse vra nie.
“Pryse
word tog deur die mark bepaal. Dít gaan nie verander nie,” sê hy. “Wat
wel sal verander, is die feit dat 1c meer as die maksimum prys onwettig
sal wees. Dit is juis dié bepaling wat deursigtigheid verseker.”
Kotzé
sê pryse het sedert die vorige bepalings in 2005 nie verander nie, maar
dat ander dienste en goedere wel duurder geword het – waaronder mediese
fondse.
“Terwyl ons beperk was, het die siekefondse die verskil in medisynepryse en -tariewe opgeslurp. Nou kla hulle,” sê Kotzé.
Wilken
het ook begrip vir aptekers wat ’n bestaan moet maak, en wat nie soos
die siekefondse groter winste kon toon ná jaarlikse verhogings nie.
Sy meen Suid-Afrikaners is afhanklik van die mediese fondse. As verbruikers word hulle as’t ware “gevange” gehou.
Die departement van gesondheid het dié naweek in Pretoria met ’n taakspan vergader oor die impak van die regulasies.
Die prysbepalingskomitee sal binne weke hul aanbevelings oor resepteringstariewe bekend maak.
- Rapport