Mediese student doodgeskiet
2009-09-30 09:35
Kaapstad - Die 19-jarige man wat Maandagaand in Observatory, Kaapstad, doodgeskiet is, is Benny Moqobane, 'n eerstejaar mediese student aan die Universiteit van Kaapstad.
Hy het aan twee skietwonde aan sy kop beswyk.
Insp. Ian Bennet, 'n polisiewoordvoerder, het gesê dié skietvoorval het omstreeks 20:00 Maandagaand plaasgevind.
Die man en 'n vriend was blykbaar op pad huis toe, toe 'n motor met drie insittendes langs hulle gestop het.
"Een van die insittendes het 'n vuurwapen uitgepluk en twee skote op die man gevuur," het Bennet gesê.
Die mans het van die toneel gevlug en is steeds op vrye voet.
Die naasbestaandes van die oorledene moes eers in kennis gestel word voordat sy identiteit aan die media bekendgemaak kon word .
Die polisie ondersoek 'n saak van moord.
– Sapa