Mediese fondse moet dít te dek, sê raad
2010-12-17 10:50
Beeld
Johannesburg - Die Raad op Mediese Skemas (RMS) het vandeesweek gesê mediese fondse is steeds verplig om voorgeskrewe minimum voordele (VMV) ten volle te dek en nie slegs dit waarvoor “fondsreëls voorsiening maak nie”.
Dr. Monwabisi Gantsho, registrateur van die RMS, het vermoedelik gereageer op ’n omsendbrief wat die Raad vir Gesondheidsfinansiers (RGF), wat mediese fondse verteenwoordig, verlede week aan sy lede uitgestuur het.
Dit het gehandel oor die RGF se onlangse mislukte poging om ’n dringende tussentydse interdik te kry om die RMS te keer om hulle te dwing om (VMV) onbeperk te dek.
Fondse en die RMS stry al jare lank oor die vertolking van ’n deel van Regulasie 8 van die Wet op Mediese Skemas wat bepaal dat VMV’s ten volle gedek moet word.
Dit sluit noodgevalle, asook ’n lys chroniese toestande in.
Die RGF meen die RMS se vertolking dat rekeninge “ten volle” betaal moet word, is verkeerd en die wet bepaal dat fondse net moet betaal waarvoor hul reëls voorsiening maak.
Die aansoek in die hooggeregshof in Pretoria op 1 Desember is laat vaar nadat doktersgroepe, farmaseutiese maatskappye, aptekers, pasiënte-organisasies en ’n hospitaalgroep op die nippertjie ingegryp het.
Dié partye word nou betrek by die RGF se tweede aansoek, om die hof later te vra om ’n verklarende bevel oor die kwessie.
Die RMS het vroeër vanjaar in ’n omsendbrief gesê hy sal optree teen fondse wat nie VMV-rekeninge ten volle betaal nie.
Die RGF meen die RMS-omsendbrief is dalk in konflik met baie skemas se reëls.
Die RGF het verlede week aan sy lede gesê hy mag nie fondse adviseer om die RMS se riglyne te verontagsaam nie omdat fondse gestraf kan word of hul registrasie in die gedrang kan kom.
Die RGF het fondse aangeraai om self regsadvies in te win.
Die RMS sê hy sal aanhou om die vereistes van die wet af te dwing terwyl die regsprosesse aan die gang is en mense wat meer inligting soek, kan sy kliëntedienssentrum kontak by 0861 123 267.
- Word deel van Nuus24 se Facebook-gemeenskap.