Mediese fonds vir huishulpe 'volhoubaar'
2013-02-27 12:57
Johannesburg – 'n Bekostigbare private mediese skema vir huishulpe is volhoubaar, het die CareCross-gesondheidsgroep Woensdag gesê.
Die groep het in 'n verklaring gesê hy verskaf sedert 1998 laekoste gesondheidsorg aan lae- en middelinkomste-werkers.
The Star het Dinsdag berig dat die SA Domestic Services and Allied Workers' Union sy kommer uitgespreek het oor dié maatskappy se plan om laekoste gesondheidsorg aan huishulpe te verskaf. Die vakbond het gesê slegs 'n gesondheidsorgplan van die departement van gesondheid sal aan die behoeftes van huishulpe voldoen.
CareCross het gesê sy nuwe skema, DomestiCare, wat gemik is op huishulpe, is gebaseer op 'n model wat al ses jaar bedryf word.
Anders as pensioenskemas, wat 'n lewenslange verbintenis vereis, het die DomestiCare-produk onmiddellike voordele en is nie afhangend van langtermyn-diens nie.
DomestiCare het geen verbintenis met die staat nie en is nie verpligtend nie, maar kan die gaping tussen privaatsektor-gesondheidsverskaffers en goedkoper dienste verklein.
Die gesondheidsorg is beskikbaar aan huishulpe landswyd teen 'n koste van R170 aan die werkgewer, is berig.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA