Media24 bring hulde aan prof. Jakes Gerwel
2012-11-28 16:19
Kaapstad – Media24 het hulde gebring aan professor Jakes Gerwel, wat Woensdag ná 'n kort siekbed in die ouderdom van 66 in Kaapstad oorlede is.
Gerwel was voorsitter van Media24 sedert 2007, toe hy die leisels oorgeneem het by Ton Vosloo, huidige voorsitter van Naspers.
Gerwel was ook ’n direkteur van Naspers en voorsitter van Welkom Yizani, Media24 se swart bemagtigingsvennoot, sedert die ontstaan daarvan in 2006.
Esmaré Weideman, uitvoerende hoof van Media24, was verpletter deur die nuus. "Prof was nie net ’n wonderlike voorsitter nie, maar ook ’n ware mentor."
"Sy stille maar deurdringende leierskap en insig in die media – en veral Media24 – het ons almal geanker."
"Ons het almal ’n vaderfiguur verloor. Ons gedagtes gaan uit na sy vrou Phoebe en sy familie."
Mede-direkteure in die Media24-direksie het die volgende gesê:
Ruda Landman: "Einde van ’n era, van iemand wat ’n verskil gemaak het in die deurslaggewende tyd in ons land."
Prof Rachel Jafta: "Ons sal sy waardige teenwoordigheid in so baie aspekte van ons lewens mis."
Prof Gerwel het ’n waardevolle bydrae tot die groep gemaak en sal erg deur die direksie en alle werknemers van Media24 gemis word.
Volg Nuus24 op Twitter.
– Nuus24