Media se vasvat ‘nie oor my’ – JZ
2010-08-12 06:42
Die Burger
Port Elizabeth - Niks aan die besluit oor ’n mediatribunaal is persoonlik nie.
Só het pres. Jacob Zuma gister gereageer toe joernaliste wou weet of die uitbeelding van sy persoonlike lewe in die media die afgelope paar maande enigsins verband hou met die beoogde Wet op die Beskerming van Inligting en die ANC-regering se besluit om ’n mediatribunaal tot stand te bring.
“Die ANC het nie oornag hieroor besluit nie. Die media is baie gou om te sê hulle is die waghond van die samelewing, maar daar is niemand wat hulle reguleer nie. Die media het al telkens foutiewelik oor die persoonlike kwessies van ander berig.
“Hierdie is nie ’n persoonlike kwessie nie, maar een van menseregte.” Hy het bygevoeg dat mense ook ’n grondwetlike reg op privaatheid het.
Zuma het kortliks met lede van die gedrukte en uitsaaimedia gepraat voor ’n ANC-saamtrek in New Brighton, Port Elizabeth. Dit was by die afsluiting van sy besoek aan die Oos-Kaap.
Zuma het gesê om al die onduidelikhede oor die mediatribunaal en die beoogde mediawet “eens en vir altyd op te klaar”, gaan hy in dié Vrydag se uitgawe van die ANC-nuusbrief, ANC Today, ’n volledige artikel daaroor plaas.
“Die hele kwessie is iets waaroor ons koelkop moet debatteer en gesels. Die Grondwet beskerm ons almal se regte as individue. Dieselfde Grondwet sê hoe ons as landsburgers, of jy nou ’n staatsamptenaar is of nie, moet leef. Dit is ook op die media van toepassing,” het Zuma gesê.
Die Centenary-saal waar Zuma Oos-Kapenaars vir oulaas gegroet het voor sy vertrek gisteraand was stampvol, met lede van die polisie en die BBP-beskermingseenheid wat by die voorste hek moes keer toe mense hul weg na binne wou oopdwing. Mense het ook buite op die sypaadjies probeer loer of hulle nie vir Zuma of sy gevolg gewaar nie.
Die president, wat die Oos-Kaap besoek het as deel van die ANC se nasionale Imvuselelo-veldtog om nuwe lede te werf, het gesê hy het doelbewus besluit om bruin gebiede (wyke) te besoek.
“Ek wou hoor wat die kwessies vir bruin inwoners op grondvlak is, want ek wil graag bruin mense in die ANC hê.”
Oor die plaaslike verkiesing in 2011 het Zuma gesê hy kan nie voorgee dat die feit dat die Wes-Kaap nog in DA-hande is die ANC nie grief nie.
“Ons glo steeds dat ons ’n beter beleid as die DA het vir ons mense.”
- Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger