Media sal nouer saam met polisie werk
2010-04-21 01:12
Johannesburg – Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) het in 'n werkswinkel in Johannesburg gesê hy sal nouer saam met die Suid-Afrikaanse Polisiediens werk.
Die twee partye het tydens 'n vergadering Dinsdag in Sandton ooreengekom dat daar 'n onderlinge verstandhouding moet wees, en dat daar aanvaar moet word dat beide die media en polisie belangrike rolle het om te vervul sonder om mekaar se verantwoordelikhede oor te neem.
Die groepe het ingestem om mekaar met respek te behandel, die hoogste etiese standaarde te handhaaf en te alle tye binne die raamwerk van die wet op te tree.
Daar is ook besluit om voort te gaan met gesamentlike opleidingsessies sodat inligting meer geredelik gedeel kan word. Regspanne van beide partye sal ook in die toekoms byeenkom om wetgewing te bespreek wat die hooffunksies van beide die SAPS en die media raak.
"Hoewel daar meer gedoen moet word, is ek trots om deel te kon wees van vandag se informatiewe gesprekke, en ek is oortuig dat ons 'n platform geskep het vir 'n beter werksverhouding tussen die media en die SAPS," het genl. Bheki Cele, die nasionale polisiehoof, ná die werkswinkel gesê.
Yusuf Abramjee, 'n lid van Sanef, het gesê: "Ek is oortuig dat vandag se gesprek baie gaan help om die verhouding tussen die polisie en die media te verbeter".
- SAPA