Mdluli 'te gestres' om te werk
2012-06-05 17:01
Pretoria – Die geskorste hoof van die misdaadintelligensie-eenheid, Richard Mdluli, sê hy is siek en kan nie werk nie aangesien die dokter hom afgeboek het vir stres en hipertensie en gesê het hy het rus nodig.
Dit kom uit ‘n beëdigde verklaring wat Mdluli ingedien het om ‘n dringende aansoek deur die nieregeringsorganisasie Freedom Under Law (Ful), om lt.genl Mdluli te verhoed om in die polisie te dien, teen te staan.
Die aansoek is Dinsdag in die hooggeregshof in Pretoria gehoor.
Die kinkels en draaie van die Mdluli-sage – wat herhaaldelik geskors en weer heraangestel is – is deur Vincent Maleka, Ful se verdediging, beskryf as “’n tafeltennis-wedstryd” tussen Mdluli en die polisie.
Regter Ephraim Makgola het dit beskryf as ‘n “rondomtalie”.
“Wie weet of daardie skorsing nie weer ter syde gestel sal word nie,” het hy gesê,
Die adcokaat van die waarnemende nasionale polisiekommissaris, lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi, het geargumenteer dat die aansoek “akademies” is, aangesien die ondersoek teen Mdluli weer opgeskort is.
Mdluli het Vrydag ‘n dringende bevel in die arbeidshof in Johannesburg bekom vir sy onmiddellike heraanstelling, in wat beskryf is as verdagte omstandighede.
Mkhwanazi het Sondag ‘n bevel bekom en die beslissing is ter syde gestel. Die saak sal weer op 21 Junie in die arbeidshof hervat word.
Ful het die hof genader vir ‘n interdik wat ‘n bevel deur die nasionale direkteur van openbare vervolgings en die nasionale polisiekommissaris, om kriminele en dissiplinêre aanklagte teen Mdluli terug te trek, ter syde te stel.
Aanklagte van bedrog en korrupsie is verlede jaar teen Mdluli aanhangig gemaak in verband met die beweerde misbruik van 'n geheime fonds van die misdaadintelligensie-eenheid om luukses soos voertuie aan te skaf.
Daar was ook 'n moordaanklag teen hom in verband met die dood van sy voormalige minnaar se man, Oupa Ramogibe. Die aanklagte het tot sy skorsing gelei.
Al die aanklagte teen hom is later teruggetrek en Mdluli is heraangestel. Mthethwa het hom daarna na 'n ander afdeling verskuif, maar Mkhwanazi het besluit om hom weer te skors.
Maleka het geargumenteer dat ‘n senior beampte wat tereg staan op sulke ernstige aanklagte wys dat hy duidelik nie die tipe persoon is wat daartoe in staat is om sy take uit te voer nie.
In verwysing na Mdluli se aandrang dat hy siek is, het Maleka gesê dit is in elk geval duidelik dat Mdluli nie daartoe in staat sal wees om sy take, wat duidelik baie stresvol is, uit te voer nie.
Regter Makgoba het te midde van mense se gelag gesê dit lyk of dit “beter sal wees” om vir Mdluli rus te gee.
Maleka het gesê Mdluli se ernstige aantygings van ‘n sameswering lei ook daartoe dat dit nie ‘n goeie besluit sal wees vir hom om saam met dieselfde kollegas te werk wat hy beskuldig het nie.
Mandla Zulu, die kommissaris se verdediging, het dit duidelik gemaak dat die polisie Mdluli nie in hierdie stadium wil heraanstel nie en hulle glo hy moet geskors bly.
Hy het bygevoeg dat dit nie die hof, Ful of enige ander organisasie se plek is om in te meng met die polisiekommissaris se uitvoering van sy take nie.
Hy het gesê Ful se aansoek was heeltemal onnodig, dat daar geen basis is waarop die waarnemende kommissaris nie vertrou moet word nie.
Die aansoek duur voort.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA