McBride was nie dronk nie, hoor hof
2010-11-24 19:00
Johannesburg – Robert McBride, voormalige hoof van die Ekurhuleni-metropolisie, het Woensdag in die Pretoriase landdroshof gesê dat hy nie dronk was toe hy sy motor in 2006 gestamp het nie, het die SABC berig.
Hy het ook getuig dat hy nie die bestuurder van die motor was nie, maar dat sy kollega Stanley Sagathevan die bestuurder was.
McBride staan tereg op aanklagte van bedrog, regsverydeling en dronkbestuur ná ‘n ongeluk op die R511 nadat hy ‘n Kerspartytjie verlaat het.
McBride het die hof vertel dat hy ‘n dag voor die ongeluk ‘n floute by ‘n stopteken gekry het aangesien ‘n dokter sy medikasie se dosis sterker gemaak het. Hy het nie gesê watter medikasie dit was nie.
Volgens McBride was hy op die dag van die ongeluk gedisoriënteerd en uitgeput as gevolg van die medikasie.
Al die staatsgetuies het getuig dat McBride dronk was.
Die saak is tot Donderdag uitgestel.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA