McBride-vonnis ‘n 'oorwinning vir geregtigheid'
2011-09-08 23:01
Johannesburg – Die vonnisoplegging van Robert McBride, voormalige hoof van die Ekurhuleni-metropolisie, was ‘n oorwinning vir geregtigheid, het die burgerregtegroep Afriforum Donderdag gesê.
“Sy vonnis stuur ‘n duidelike boodskap aan beamptes van wetstoepassing dat daar geen plek vir oneerlikheid is nie en dat hulle hul uniforms met trots kan dra,” het Nantes Kelder, woordvoerder, gesê.
McBride was veronderstel om ‘n voorbeeld vir die gemeenskap te wees en het die verantwoordelikheid gehad om die wet te gehoorsaam, wat hy nie het nie, het Kelder gesê.
Afriforum voel die vonnis bewys dat niemand bo die reg verhewe is nie.
McBride is Donderdag in die landdroshof in Pretoria tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis.
Landdros Peet Johnson het hom tot twee jaar gevangenisstraf vir bestuur onder die invloed van alkohol en vyf jaar vir dwarsboming van die gereg gevonnis.
McBride sal appél teen die vonnis aanteken.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA