McBride se dokter sterf
2010-08-11 14:03
Pretoria – Die dokter wat na bewering die mediese dokumente van Robert McBride, destydse hoof van die Ekurhuleni-metropolisie, vervals het, het gesterf.
Joseph Moratioa is daarvan verdink dat hy McBride se mediese dokumente aangepas het. Hy het glo gesê dat McBride nie dronk was op die ongelukstoneel nie.
Volgens Gugu Moratioa het haar man op 23 Julie gesterf ná ‘n kort siekbed.
McBride moes in September weer in die landdroshof in Pretoria verskyn op aanklagte van bedrog ná afloop van sy motorongeluk in Desember 2006.
Moratioa het glo op 24 Januarie 2007 ‘n mediese sertifikaat uitgereik waarin hy beweer het dat McBride nugter was op die toneel.
McBride wou nie kommentaar lewer op die nuus van Moratioa se dood nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA