McBride 'kan buite tronk gerehabiliteer word'
2011-09-08 11:59
Pretoria – 'n Proefbeampte het in die Pretoriase streekhof getuig dat Robert McBride nie 'n gevaar inhou vir die samelewing nie, en buite die tronk gerehabiliteer kan word, het Beeld getweet.
Vonnisverrigtinge in die dronkbestuursaak van McBride, voormalige hoof van die Ekurhuleni-metropolisie, is Donderdag in die Pretoriase streekhof hervat.
Die hof het ook gehoor dat McBride dit sal verkies as 'n boete aan hom opgelê word weens sy betrokkenheid by internasionale vredesmissies.
Die proefbeampte het verder getuig dat dit moeilik sal wees vir McBride om by die bepalings van korrektiewe toesig te hou.
Die saak is in Julie uitgestel omdat die hof gewag het vir 'n verslag van 'n ondersoekbeampte wat met verlof was.
Die staat het aan die hof gesê die verslag is 'n kritiese dokument in die saak.
McBride is in April vanjaar skuldig bevind op aanklag van dronkbestuur.
McBride het op 21 Desember 2006 van ’n jaareindfunksie van die metropolisie by die Oberon-oord naby Hartbeespoortdam af gekom toe sy Chevrolet Lumina omgeslaan het.
Hy is ook skuldig bevind op aanklag van regsverydeling en onskuldig bevind op aanklag van bedrog.
McBride se borgtog is tydens sy laaste hofverskyning verleng.
– Volg Nuus24 op Twitter