Vyf jaar tronkstraf vir McBride
2011-09-08 14:48
Pretoria – Robert McBride, voormalige hoof van die Ekurhuleni-metropolisie, is Donderdag in die Pretoria-streekhof tot vyf jaar tronkstraf gevonnis vir dronkbestuur, vyf jaar opgeskort vir twee jaar vir regsverydeling en sy rybewys is 18 maande opgeskort, het Beeld vanuit die hof berig.
Landdros Peet Johnson het gesê McBride het onder invloed van drank roekeloos en gevaarlik bestuur en mense se lewens in gevaar gestel.
Johnson het ook gesê hy kan nie die feit ignoreer dat McBride as metropolisiehoof aangestel is nie. Hy het vir McBride gesê hy moes as senior 'n voorbeeld stel, maar dat hy daarin misluk het.
Die hof het vroeër gehoor dat McBride dit sal verkies as 'n boete aan hom opgelê word weens sy betrokkenheid by internasionale vredesendings.
Die proefbeampte het verder getuig dat dit moeilik sal wees vir McBride om by die bepalings van korrektiewe toesig te hou.
Die saak is in Julie uitgestel omdat die hof gewag het vir 'n verslag van die proefbeampte wat met verlof was.
Die staat het aan die hof gesê die verslag is 'n kritiese dokument in die saak.
McBride is in April vanjaar skuldig bevind op aanklag van dronkbestuur.
McBride het op 21 Desember 2006 van ’n jaareindfunksie van die metropolisie by die Oberon-oord naby Hartbeespoortdam af gekom toe sy Chevrolet Lumina omgeslaan het.
Hy is ook skuldig bevind op aanklag van regsverydeling en onskuldig bevind op aanklag van bedrog.
McBride se borgtog is tydens sy laaste hofverskyning verleng.
– Volg Nuus24 op Twitter