Mboweni wen diskriminasiesaak
2010-03-03 15:02
Pretoria - Die gelykheidshof in Pretoria het in die guns van die voormalige president van die SA Reserwebank, Tito Mboweni, beslis in 'n diskriminasiesaak wat deur die sakeman Mario Pretorius teen hom gebring is.
Die hof het beslis dat die kwessie oor Mboweni se opmerkings, wat tydens 'n aandeelhouersvergadering gemaak is, "niks meer as 'n storm in 'n teekoppie" was nie.
Pretorius het Mboweni hof toe geneem oor beweerde rassistiese stellings wat hy tydens dié vergadering in 2008 gemaak het.
Hy het aangevoer dat die opmerkings onregverdig en diskriminerend is, en neerkom op haatspraak.
Hy het vergoeding en 'n verskoning geëis en gesê Mboweni moet sy regskoste betaal omdat die stelling sy reputasie geskend het.
Mboweni het tydens die betrokke vergadering aan Pretorius gesê hy sal nie toelaat dat Pretorius met hom praat "soos wittes destyds met swartes gepraat het nie".
Pretorius het gesê hy verstaan dat hy Mboweni beledig het.
– Sapa