Mbete sal help om oog oor Afrika te hou
2012-01-29 11:02
Johannesburg – Baleka Mbete, voormalige adjunk-president van Suid-Afrika, is as lid van die paneel van die Afrika-portuuroorsigmeganisme (APRM) verkies, het die presidensie Sondag gesê.
Sy is eenparig deur lede van die APRM verkies.
Die APRM is 'n unieke liggaam wat van tyd tot tyd 'n portuuroorsig bied om die stand van politiese, sosiale en ekonomiese bestuur in deelnemende lande te ondersoek.
"Die APRM is belangrik want dit moedig Afrikalande aan om nie net voornemens te hê om beter bestuur toe te pas nie, maar om ook hard te werk om hierdie beloftes 'n werklikheid te maak. Gegewe haar ondervinding en kennis, sal Mbete as voormalige adjunkpresident baie waarde tot hierdie liggaam toevoeg," het pres. Zuma in 'n verklaring gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA