Mbete: Shivambu se vloekery onaanvaarbaar
2011-07-12 14:10
Johannesburg – Baleka Mbete, ANC-voorsitter, het gesê dit is onaanvaarbaar vir enigeen wat namens die ANC praat om te vloek om sy boodskap oor te dra.
Mbete het reageer op navrae oor Floyd Shivambu, woordvoerder van die ANC-jeugliga, wat 'n joernalis uitgevloek het.
Die joernalis Jacques Dommisse het Shivambu gebel vir kommentaar oor Julius Malema, leier van die ANC-jeugliga, se luukse safari wat R78 000 gekos het. Dié safari was kort voor Malema herverkies is as die leier van die ANCYL.
Toe Dommisse vir Shivambu bel en vra om met Malema te praat oor die bewerings, het die gesprek lelik geraak.
"Ek stem nie daarmee saam dat vloektaal deur enigeen wat namens die ANC kommunikeer, gebruik word nie," het Mbete op 'n mediakonferensie by Luthuli-huis gesê.
"Ek dink dit is betreurenswaardig. Dit is nie taal wat gebruik moet word nie. Enigeen wat hulself op 'n manier uitdruk waar hulle ander uitvloek, is onaanvaarbaar," het Mbete gesê.
"Jy gebruik nie sulke taal nie. Jy hoef nie op mense te vloek of onbeskof te wees om jou punt te maak nie. Jy kan jou punt maak deur beskaafde taal te gebruik."
Só het dele van die twee telefoongesprekke tussen Dommisse en Shivambu verloop:
JD: So hoekom het jy die telefoon neergesit?
FS: Hê?
JD: Hoekom het jy die foon neergesit?
FS: Hei man, ek het gesê indien jy wil voortgaan en ’n berig skryf, moet jy dit doen. Hierdie ding het nooit gebeur nie. Hy wil nie met jou praat nie.
JD: Hoekom wil jy nie hê dat ek met Malema daaroor praat nie.
FS: Ek het gesê nee, hy wil nie. Hoekom moet hy met jou praat, hy het geen verpligting om met jou te praat nie?
JD: Want hy is ’n politikus.
FS: Ja, maar ek het gesê nee. Jy kan nie mense dwing om met jou te praat nie.
JD: Ek verstaan dit nie.
FS: Ons gaan nie dat hy met jou praat nie. Jy kan nie mense dwing om met jou te praat nie. Hy wil nie met jou praat nie. Ek het nou net met hom gepraat.
JD: Hoe weet jy hy wil nie met my praat nie?
FS: Want ek het nou net met hom gepraat.
JD: Hoe bedoel jy jy het nou net met hom gepraat. Ek verstaan dit nie?
FS: F*k jou.
JD: Sê weer.
FS: Ek sê f*k jou.
JD: Vloek jy my?
FS: Ja.
JD: Hoekom doen jy dit?
FS: Wat is jou probleem?
JD: Ek het geen probleem nie.
FS: F*k jou. F*k weg, oukei.
JD: O, so jy het dit nou vir die vierde keer gesê.
FS: Ja.
JD: Kan jy my asseblief ’n nommer vir Julius Malema gee?
FS: Ek wil nie.
JD: Oukei, dankie. Tot siens.
– Volg Nuus24 op Twitter