Mbeki hét Cope gehelp – WikiLeaks
2011-01-13 07:38
Johannesburg - Oudpres. Thabo Mbeki was regstreeks betrokke by die opstel van die binnelandse en buitelandse beleid van Cope ten tyde van dié party se ontstaan.
Só lui ’n geheime Amerikaanse diplomatieke nota wat Media24 se ondersoekspan eksklusief bekom het.
Die datum daarop, 5 Desember 2008, is kort ná Cope se stigting en is deur ’n adjunk- politieke raadgewer by die Amerikaanse ambassade, me. Madelaine Seidenstricker, as “geheim” geklassifiseer. Dit handel oor ’n vergadering tussen ’n diplomaat, dié ambassade en prof. Dirk Kotzé van Unisa.
Luidens die nota was Mbeki betrokke by die opstel van ’n beleidsdokument vir Cope, wat Smuts Ngonyama – toe aan die spits van die wegbreekgroep van die ANC – op 4 Desember 2008 na Kotzé geneem het vir sy inset.
Die nota ondersteun voortgesette bespiegelings, wat nog altyd ontken is, dat Mbeki deel gehad het aan Cope se ontstaan.
Die nota lui Kotzé se stellings “dien as die sterkste aanduiding tot dusver dat... (Mbeki)... die party, wat deur verskeie van sy jare lange bondgenote geskep is, bystaan”.
Kotzé, wat luidens die nota noue bande het met die Mbeki-bondgenote Aziz en dr. Essop Pahad, het op ’n vergadering op 5 Desember aan ’n Amerikaanse diplomaat gesê Mbeki blyk ’n beduidende invloed op Cope te hê in die bepaling van binne- en buitelandse beleid. “Smuts het dit baie duidelik gemaak dat dit (die dokument) van Mbeki af kom.”
Kotzé het bygevoeg: “Die dokument het al die kenmerke van baie van Mbeki se briewe by die ANC.”
Beide Kotzé en Ngonyama het vandeesweek ontken dat daar ooit so ’n beleidsdokument deur Mbeki opgestel is.
Mbeki se woordvoerder, Mukoni Rashitanga, het gesê Mbeki wil nie kommentaar lewer op enige WikiLeaks-notas nie. Hy het beklemtoon dat Mbeki se ANC-lidmaatskap welbekend was en dat sy rekord in die ANC vanself spreek.
Die nota haal Kotzé aan wat glo gesê het Ngonyama moes Mbeki raadpleeg nadat hy Kotzé se insette gekry het. Maar Kotzé ontken dit nou.
“Hy (Ngonyama) het net genoem hy was in gereelde kontak met Mbeki, Aziz en Essop Pahad; daar is niks meer nie”.
Ngonyama het die nota verwerp. “Daar’s niks van die aard nie. Oudpres. Mbeki het niks te doen met Cope se beleid nie en ons het hom nooit geraadpleeg nie. Die enigste persoon wat betrokke was, was Moeletsi Mbeki (oudpres. Mbeki se broer) as een van die akademici wat ons geraadpleeg het,” het Ngonyama gesê.
Hy het bygevoeg hy het nie ’n dokument wat deur Mbeki opgestel is na Kotzé toe geneem nie. Hy het net vir Kotzé sy kommentaar gevra oor Cope-dokumente wat vakkundige insette benodig het.
Intussen het Essop Pahad gesê as Mbeki betrokke was by die opstel van Cope-beleid “sou dit nie gewees het wat dit is nie, want die vlak van diepte (van Cope-beleid) is nie eers naastenby dié van die ANC nie”.
- Kliek hier om die volledige diplomatieke nota af te laai.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger