Mbeki, De Klerk, Mandela kan vlieg
2011-11-26 07:21
Kaapstad – Die feit dat die presidensie sy sente moet omdraai, raak darem nog nie oud-presidente en hul adjunkte nie, is gister aangekondig.
Nuus dat die plaaslike reis- en verblyftoelaes van oud-presidente Thabo Mbeki, FW de Klerk en Nelson Mandela onder meer gesny is, is Vrydag die kuberruim ingestuur.
Harold Maloka, woordvoerder vir die presidensie, het gesê dié oudstaatshoofde word nie geraak deur die besnoeiings in die presidensie nie, net hul ondersteuningspersoneel.
“Niks keer hulle om te vlieg nie.”
Die regering betaal onder meer vir oudstaatshoofde se reise.
“Besnoeiings moes ingestel word as gevolg van die wêreldwye ekonomiese klimaat. Alle personeel is aangesê om besteding te besnoei en reiskoste te verminder.”
Hy het gesê die presidensie bestuur die begrotings van die kantore van voormalige staatshoofde en finansiële inkrimpings raak dus dié kantore ook.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad