Mbeki: ‘Bring die bewyse, Heath!’
2011-12-09 07:01
Kaapstad. – ’n Ontstelde oudpres. Thabo Mbeki het die regering uitgedaag om bewyse te lewer vir bewerings van oudregter Willem Heath dat hy destyds sy pos misbruik het om teen pres. Jacob Zuma saam te span.
Heath is verlede week deur Zuma as die nuwe hoof van die spesiale ondersoekeenheid aangestel.
Mbeki het Donderdag in ’n verklaring gesê sedert sy uittrede in 2008 het hy dit vermy om op plaaslike politiek kommentaar te lewer, maar hy voel nou “gedwonge” om op Heath se bewerings te reageer.
Heath het die afgelope naweek in ’n onderhoud met die Sondagblad City Press Mbeki daarvan beskuldig dat hy die bal aan die rol gesit het met betrekking tot die verkragting- en korrupsieklag teen Zuma in die aanloop tot die Polokwane-leierstryd in 2007.
Heath het verder gesê die veroordeelde bedrieër Schabir Shaik, Zuma se voormalige finansiële raadgewer, en mnr. Tony Yengeni, die ANC se gewese hoofsweep, is in die wapenondersoek “opgeoffer”, asook dat regter Hilary Squires se uitspraak in die Shaik-korrupsiesaak “gebrekkig” was aangesien daar nie voldoende bewyse was om Shaik te vonnis nie.
Hy het ook laat blyk dat hy wel ’n honorarium betaal is, al het die ANC hom nie ’n gereelde tarief betaal vir konsultasiewerk wat hy vir die party gedoen het nie.
Mbeki se kantoor het Donderdag gesê hy verwerp Heath se aantygings en dit is “van alle waarheid ontbloot”.
“Dit lyk nie of adv. Heath, ’n voormalige regter, veel agting vir die besluite van die hof – die konstitusionele hof ingesluit – het nie, behalwe dié waarmee hy saamstem.
“Die appèlhof het geen gronde gevind vir bewerings oor politieke inmengery deur pres. Mbeki en die destydse kabinet in pres. Zuma se korrupsiesaak nie.
“Die Thabo Mbeki-stigting se regsverteenwoordiger het vandag amptelik die regering genader om bewyse te lewer vir adv. Heath se bewerings.”
Mukoni Ratshitanga, Mbeki se woordvoerder, het gesê Heath is ’n regeringsamptenaar en daarom is die eis aan die regering gestel.
Heath het Donderdagmiddag aan eNews gesê hoewel die onderhoud nie onakkuraat was nie, is hy “buite konteks” aangehaal.
Adriaan Basson, City Press se assistentredakteur wat die onderhoud gevoer het, het gesê hy verskil hiermee. “Ons het langer as twee uur gesels. Hy het gevra dat sekere dele nie gepubliseer word nie en ek het dit gerespekteer en nie daardie dele gepubliseer nie.”
Intussen het Vytjie Mentor, ’n gesiene ANC-LP, vir Mbeki in die bres getree en op haar Facebook-blad geskryf Heath moet “die eerbare ding doen” en as SOE-hoof bedank.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger