Mbalula besluit gou oor KSA-skandaal
2011-10-01 20:14
Johannesburg – Fikile Mbalula, minister van sport, sal binnekort sy finale besluit oor 'n wanbestedingskandaal in Krieket SA aan die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Sascoc) oordra.
Sascoc het Saterdag in 'n verklaring bevestig dat sy uitvoerende hoof, Tubby Reddy, Mbalula twee dae gelede oor die saak ingelig het.
"'n Volledige stel dokumente is aan die minister oorhandig, sowel as 'n volledige verduideliking van al die prosesse wat deurgevoer is wat aanleiding gegee het tot die raad van Krieket SA se eenparige besluit in 'n onlangse vergadering in Port Elizabeth," het Reddy gesê.
"Die volgende stap in hierdie saak is dat die minister na Sascoc sal terugkom met sy finale besluit in dié verband."
Lede van Krieket SA het onlangs besluit om 'n mosie van wantroue teen sy president,
Mtutuzeli Nyoka, in te stel.
Nyoka is in Februarie van sy amp onthef ná hy gepoog het om finansiële onreëlmatighede in Krieket SA bloot te lê. Hy het die besluit in die hooggeregshof bevraagteken en is twee maande later weer in sy pos aangestel.
'n Spesiale algemene vergadering om Nyoka se lot te bepaal sal op 15 Oktober plaavind. Hy word daarvan beskuldig dat hy Krieket SA in oneer gebring het deur die raad se besluite te ignoreer.
Nyoka het onder andere ’n strafregtelike klag teen Gerald Majola, uitvoerende hoof van KSA, ingedien en só glo byna ’n rekord-uitsaai-ooreenkoms van meer as R1 miljard verongeluk.
– Volg Nuus24 op
Twitter.
- SAPA