Mbalula: 'Seksskandaal is 'n komplot teen my'
2011-11-08 10:09
Johannesburg – Die minister van sport, Fikile Mbalula, sê die vrou wat beweer dat sy swanger is met sy kind is deur intelligensie-eenhede betaal om sy naam deur die modder te sleep, het The New Age Dinsdag berig.
Mbalula het aan die koerant gesê dat die vrou, wat sedertdien deur verskeie koerante geïdentifiseer is as die 25-jarige Joyce Molamu, R150 000 betaal is deur nasionale intelligensie-eenhede wat 'n belang het by interne struwelinge in die ANC.
Dit kom in die aanloop tot volgende jaar se verkiesingskonferensie wat in Mangaung sal plaasvind.
“Staatsinstansies moet nie gebruik word om politieke oorloë te voer nie. Dit moet nou stop,” het hy gesê.
Hy het die politieke atmosfeer binne die ANC beskryf as “’n baie giftige een”.
Mbalula het baie ondersteuning in die ANC-jeugliga, wat wil hê hy moet Gwede Mantashe vervang as die ANC se sekretaris-generaal.
Hy het gesê die atmosfeer in die ANC het “besoedeld” geraak.
Mbalula het ook bygevoeg dat sekuriteitsagentskappe van die staat gebruik word om op leiers van die party en in die regering te spioeneer.
Molamu het verlede naweek beweer dat sy swanger geword het toe sy en Mbalula onbeskermde seks gehad het ná hulle by ‘n partytjie ontmoet het.
Mbamula het sedertdien ontken dat hy en Molamu onbeskermde seks gehad het en beweer dat hy ‘n kondoom gebruik het, maar dat dit gebreek het.
Hy het verder ontken dat Molamu swanger is en sê sy is ‘n “afperser”.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA