Mazibuko sê wat haar planne is in parlement
2012-01-27 09:06
Kaapstad – Die DA gaan probeer om die hegte samewerking wat verlede jaar rondom Swart Dinsdag teen die inperking van vryheid van spraak ontstaan het, vanjaar in die parlement uit te brei.
Lindiwe Mazibuko, leier van die opposisie, het die DA se planne vir vanjaar se parlementêre sessie gister in Kaapstad bekend gestel.
Sy het gesê adj.pres. Kgalema Motlanthe het onderneem om alle parlementêre meganismes tot sy beskikking te gebruik om onder meer self wette in te dien oor kwessies waaroor die regering sloer.
Voorts wil die DA sorg dat ’n tydsbeperking, waarbinne ministers ongemaklike vrae moet beantwoord, ingestel word.
Skuiwergate wat deur swakker ministers gebruik word om vrae net gedeeltelik te beantwoord, of om lang tye geen vrae te beantwoord nie en dan op die laaste dag van die jaar 327 vrae te wil deurstoot, moet toegemaak word.
Die Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting, wat die hele opposisie verlede jaar in die Nasionale Vergadering teengestaan het, dien nou voor die Nasionale Raad van Provinsies.
Daar het die DA ’n paar groot wysigings voorgestel.
Die belangrikste is ’n verweer dat publikasie van inligting wat geheim verklaar is, verskoonbaar is wanneer dit in die openbare belang is.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger