Mazibuko: Zuma moet om verskoning vra
2013-01-14 14:59
Johannesburg – Pres. Jacob Zuma moet sy uitlating dat sakeondernemings wat die ANC ondersteun, voorspoedig sal wees, terugtrek, het Lindiwe Mazibuko, die DA se parlementêre leier, Maandag gesê.
Mazibuko het gesê sy sal parlementêre vrae aan Zuma stel sodat hy kan verduidelik of sy opmerkings wel regeringsbeleid is. Indien dit nie is, sal hy die stelling amptelik moet terugtrek.
“Hierdie uitlatings, wat tydens die ANC se verjaardag-galadinee gemaak is, het die potensiaal om die beginsel van goeie bestuur, waarvan ons grondwetlike demokrasie fundamenteel afhanklik is, negatief te beïnvloed.
“Dit impliseer as die ANC ondersteun word, sal sakeondernemings finansieel vergoed word,” het sy gesê.
Zuma het aan sakemanne by die ANC se galadinee in Durban gesê diegene wat die ANC ondersteun sal kan sien hoe hul ondernemings “vermeerder”.
“Hierdie is verdere bewyse van hoe pres. Zuma fundamenteel deurmekaar raak met die rol van die staat en die party en hoe die regering voortgaan om openbare finansies, wat op die armes spandeer moet word, te misbruik,” het Mazibuko gesê.
Die R250 miljoen wat op die opgradering van Zuma se woning in Nkandla spandeer word, is die grootste voorbeeld tot op hede, het sy bygevoeg.
Sy het gesê Zuma moet meer doen om korrupsie te beveg, eerder as om gevaarlike en onverantwoordelike opmerkings te maak wat die potensiaal het om die land se grondwetlike demokrasie te ondermyn.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA