Max: Polisie moet hul wapens gebruik
2009-09-02 06:27
MAYGENE DE WEE
Dieprivier - Polisielede moet nie huiwer om hul vuurwapens te gebruik indien hul lewens bedreig word nie, het adv. Lennit Max, provinsiale minister van gemeenskapsveiligheid, gister by die roudiens vir konst. Pheello “Percy” Masiu (32) gesê.
Masiu, van Wynberg, is Saterdag doodgeskiet terwyl hy en ’n kollega ’n inbraak by ’n huis in Constantia ondersoek het.
Polisielede moet egter seker maak dat wanneer hulle optree, dit binne die raamwerk van die wet is, het Max gesê.
Hy het gesê Masiu is nie die laaste polisiebeampte wat geskiet sal word nie. “Maar die aanvalle op polisiebeamptes moet nou stop.”
Hy het gesê polisiebeamptes gaan nie langer stilstaan en as teikens vir misdadigers dien nie.
“Die moordenaar is ’n tweede kans gegee en hy kan God daarvoor dank. Ons kollega, konst. Masiu, is nie ’n tweede kans gegee nie.”
Masiu se broer,Tlale Masiu, het gesê hul familie is baie trots daarop dat hy sy lewe in die stryd teen misdaad gegee het.
“Hy het nie gesterf terwyl hy ecstacy geneem het, of in ’n geveg oor ’n meisie nie. Hy het eerbaar gesterf.”
Masiu het gesê sy pa wou nooit hê sy broer moet by die polisie aansluit, of Kaap toe kom (van Ventersburg in die Vrystaat) nie.
“My vader is nie vandag hier nie, omdat hy die hartseerste is. Hy het vir my gevra, hoe kan hy huil as hy die fort moet hou?”
Masiu het gesê hulle moet dankie sê vir die manne in blou – “vir die manier waarop julle die situasie hanteer het, en ook vir jul simpatie.”
- Die Burger