Matriek: 'Dis die rassiste wat kla'
2011-02-16 07:30
Kaapstad. – Dit is rassisties om verlede jaar se verbeterde matriekuitslae te bevraagteken, sê dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding.
Hy het hom Dinsdag tydens die debat oor pres. Jacob Zuma se staatsrede in die Nasionale Vergadering bloedig vererg oor volgehoue kritiek op die geloofwaardigheid van die matriekuitslae.
Nzimande het dit duidelik gestel hy is keelvol vir die bevraagtekening daarvan deur die media en opposisie.
“Die 2010-matriekuitslae bewys ons is besig om ons skoolstelsel reg te ruk.
“Elke jaar is dit egter dieselfde storie: As die uitslae swak is, sê die media en opposisie dit bewys die regering is onbevoeg; as die uitslae verbeter, het die darkies dit seker gemanipuleer.
“Die arrogante en spottende trant van die debat is besig om ons mense se vertroue in ons onderwysstelsel en regering te ondergrawe en is boonop onderling rassisties,” het hy gesê.
Opposisiepartye het met verontwaardiging op sy uitlatings gereageer.
Lindiwe Mazibuko (DA) wou weet of Nzimande se gebruik van die woord darkie parlementêr is.
Adv. Mike Masutha (ANC) het egter aangevoer Nzimande het die woord nie gebruik om self swart mense of die regering te beskryf nie, maar het bloot aangehaal hoe hulle deur ánder mense beskryf word.
Nzimande se uitlatings volg nadat die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) bevind het die hoër slaagsyfer is moontlik weens te maklike vraestelle, die “afrigting” van matrikulante en minder kandidate wat wiskunde as vak geneem het.
Die matriekslaagsyfer het verlede jaar met 7 persentasiepunte tot 67,8% toegeneem.
Nzimande het volgehou dié verbetering is toe te skryf aan “beduidende vordering” wat die afgelope 17 jaar met die normalisering en transformasie van die onderwysstelsel gemaak is.
Die stand van die land se onderwys was een van die vernaamste besprekingspunte tydens die debat.
Dr. Wilmot James (DA) het by Zuma gepleit om die houvas wat die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou) op onderwys het te verbreek, terwyl prof. Ben Turok (ANC) gesê het volgehoue ingryping is nodig om die speelveld gelyk te maak.
Turok het die debat gestook deur te sê die DA se “volgehoue gekla oor gelyke geleenthede en meriete” is ’n bewys hulle verstaan nie wat die uitdagings is wat die land in die gesig staar nie.
Volgens hom is dit onteenseglik so dat swart kinders altyd agter wit kinders sal staan as geleenthede uitgedeel word omdat hulle steeds nie gelyke onderwysgeleenthede kry nie.
“Julle (die DA) en die mense wat julle verteenwoordig, het ’n verpligting om transformasie te bevorder, juis oor die verlede waarin julle ’n hand gehad het en die beleid wat julle steeds aanhang,” het hy gesê.
Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld