Maties in trane oor grade
2009-12-19 06:21
Pretoria - Die sewentig weermagstudente wat verlede week by die Universiteit van Stellenbosch as studente van die Militêre Akademie gegradueer het, het rekeninge pleks van gradesertifikate ontvang.
Die akademie in Saldanha skuld die universiteit sowat R1,5 miljoen vir uitstaande klasgeld.
Woedende ouers het vandeesweek aan Die Burger gesê hul kinders is platgeslaan van skaamte én teleurstelling.
“Vir drie jaar werk jou kind so hard as wat sy kan om haar graad te kry, en dan kry sy ’n rekening omdat die weermag se administrasie slordig is,” het een ma gesê.
Die akademie-studente woon van hul klasse vir hul BMil-grade saam met die universiteit se gewone studente by.
Die gradeplegtigheid is voorafgegaan deur ’n spoggerige parade waartydens die studente geprys is vir hul harde werk.
Die plegtigheid is daarna by die universiteit gehou. Al die BMil-, honneurs- en diplomastudente van die akademie sou hul onderskeie kwalifikasies ontvang.
In die houertjies waarin die sertifikate gewoonlik opgerol is, was egter ’n netjiese rekening geadresseer aan elke student vir die totale uitstaande skuld van die weermag. Die rekening spesifiseer dat die studente hul sertifikate sal ontvang sodra die weermag sy skuld vereffen.
“By die sosiale geleentheid ná die plegtigheid het die bestuur van die akademie die studente vreeslik om verskoning gevra.
“Soos dit is, was ons kinders in trane van teleurstelling. Dit is gemeen om die studente te laat boet vir die weermag se nalatigheid,” het een pa gesê.
“Die bevelvoerder het gesê die weermag het nie die geld van Simonstad af aan die universiteit laat oorbetaal nie, maar verskonings maak nie die bitter smaak in ’n mens se mond minder nie.”
Mohamed Shaikh, senior woordvoerder van die US, het in reaksie gesê dit is aanvaarde beleid van die universiteit dat graadsertifikate nie aan kandidate uitgereik word wie se klasgelde nie vereffen is nie.
“Dit word ook só deur die administratiewe prosesse van die universiteit hanteer. Die studiegeld van die studente van die Militêre Akademie word deur die weermag betaal, en in hierdie opsig was dit ’n administratiewe oorsig dat die graadsertifikate nie by die afgelope gradeplegtighede aan die suksesvolle studente uitgereik is nie.
“Die universiteit is jammer oor die fout. Die graadsertifikate sal aan die studente uitgereik word,” het Shaikh gesê.
Die weermag het ondanks navrae teen druktyd geen kommentaar gelewer nie.
- Die Burger