Maties ‘diskrimineer nie op grond van seksuele oriëntasie’
2010-08-18 08:07
Die Burger
Stallenbosch - ’n Studentevereniging aan die Universiteit Stellenbosch (US) wil weet waarom die US nie reageer op ’n voorbladfoto van Die Matie waarop twee mans mekaar soen nie, al het die foto vir groot omstredenheid onder die studentegemeenskap op die kampus gesorg.
Die foto waarop Mark Brown en Bjorn Czepan, albei studente aan die Universiteit van Kaapstad, mekaar omhels en soen, is tydens die US se jaarlikse Soen in die Laan-byeenkoms op 30 Julie geneem. Die foto is verlede week in dié studentekoerant gepubliseer.
Die Lesbigay-studentevereniging wil weet hoekom die US ongeërg blyk te wees om te reageer op die plasing van die foto.
“Die US erken die redaksionele vryheid van Die Matie om onafhanklik oor gebeure op kampus verslag te doen. Kragtens ons land se Grondwet diskrimineer die US nie op grond van ras, kleur, geslag, seksuele oriëntasie of politieke oortuigings nie,” het die US geantwoord op Lesbigay se opmerking.
Mohamed Shaikh, woordvoerder aan die US, het bygevoeg: “Die universiteit erken ook die reg van individue (onder wie personeel en studente), studenteverenigings en ander groeperinge op kampus om eie menings oor die kwessie te huldig, maar moedig groeperinge aan om via gesonde en billike debatvoering hul menings te lug.”
Volgens Roberto Millan, voorsitter van die Lesbigay-vereniging, is die reaksie op die foto vir die gay-gemeenskap “oorweldigend”.
“Ons het baie positiewe kommentaar gekry. Maar natuurlik is ook negatiewe reaksie ontvang. Daar is geen middeweg nie. Dis vir mense óf wonderlik óf walglik,” het hy gesê.
Sedert die koerant op die kampus versprei is, het die fotograaf wat die soen op lens vasgevang het, Vanessa Smeets, baie kommentaar van medestudente ontvang.
“Die reaksie van mense is gebalanseerd. Baie dink dis wonderlik, ander is weer daardeur gewalg. Homoseksuele studente het gesê hulle voel meer selfversekerd nadat die foto gepubliseer is. Ander voel weer geïntimideerd.”
Annelize Kloppers, wat met dié uitgawe vir die laaste keer in Die Matie se redakteurstoel was, het ook reaksie uit alle oorde oor die gebruik van die foto gekry.
“Ek het gedink die foto sal hier en daar ’n reaksie uitlok. Tans is dit soos ’n sneeubal-effek,” het sy gesê.
* Die Soen in die Laan-byeenkoms word gehou om elke jaar ’n rekord op te stel vir die meeste paartjies wat byeenkom en mekaar gelyktydig soen. Duisende studente het op 30 Julie in Die Laan saamgedrom voor daar vir die groot oomblik afgetel is.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger