Matie-moordsaak na hooggeregshof
2009-11-20 12:43
Jan Gerber
Stellenbosch - Die saak teen die man wat van die moord, verkragting en menseroof van die Matie Erin van Rensburg verdink word, Jacobus Eksteen, is in die Stellenbosch-landdroshof na die Wes-Kaapse hooggeregshof verwys.
Van Rensburg se liggaam is op 2 Junie in die duine buite Elandsbaai aan die Weskus gevind nadat Eksteen die toneel aan die polisie uitgewys het. Hy is ‘n dag vantevore vir ondervraging ingeneem nadat hy vermoedelik die laaste persoon was wat haar lewend gesien het.
Landdros Anita Potgieter het die saak teen Eksteen na die hooggeregshof oorgeplaas en gelas dat hy op 16 April 2010 daar verskyn vir die voorverhoor-konferensie. Die voorlopige verhoordatum is 17 Mei 2010. Potgieter het ook gelas dat hy nou in Pollsmoor aangehou word, nadat hy in die Stellenbosch-gevangenis aangehou is.