Mathale as nuwe ANC-voorsitter aangewys
2011-12-18 10:45
Polokwane – Die premier van Limpopo, Cassel Mathale, is as die ANC-voorsitter in die provinsie aangewys.
Meer as 'n duisend afgevaardigdes het Saterdagaand vir hulle voorkeurkandidate tydens die provinsiale verkiesingskonferensie by die Universiteit van Limpopo se Turfloop-kampus gestem.
Mathale het met 601 stemme gewen terwyl die adjunk-minister van kuns en kultuur, Joe Phaahla, 519 stemme gekry het.
Dickson Masemola is as die onder-voorsitter aangewys met Silviette Lekganyane as die sekretaris en Pinky Kekane as die tesourie.
Mathale se ondersteuners het voor die aankondiging Sondag reeds in die vroeë oggendure begin seëvier nadat hulle glo sms-boodskappe gekry het om hulle van hul oorwinning in te lig.
Nadat die amptelike aankondiging gemaak is het hulle weer in sang oorgegaan.
Ondersteuners van Phaahla was nie by die aankondiging nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA