Marzanne-oppasser kry glo trekpas
2010-05-19 09:00
Johannesburg – Baba Marzanne Kruger se voormalige oppasser soek hulp by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) nadat sy deur haar werkgewer afgedank is, het The Star Woensdagoggend berig.
Franscina Sekhu is glo deur die Kruger-gesin afgedank nadat sy na bewering die deur oopgemaak het vir die mans wat baba Marzanne wreed aangeval het.
Volgens Sekhu se moeder, Martha, het haar dogter die trekpas gekry kort nadat sy uit die hospitaal ontslaan is.
“Ek het gedink ons sal oor die voorval kan praat en om verskoning vra. My dogter is net so hartseer oor wat met Marzanne gebeur het. Maar hulle het met ons baklei en ons uit die huis gejaag soos honde,” het Martha gesê.
‘n Vriend van die Kruger-gesin, Kobus Grobler, was glo onbewus van die feit dat Sekhu afgedank is.
“Ek is nie bewus van enige hofsake nie. Sover ek weet is sy met siekverlof. Maar as dit waar is, dan is dit baie hartseer,” het hy gesê.
- Sapa
Volg Nuus24 op Twitter.