Marikana-tragedie 'kon verhoed word'
2012-10-22 14:51
Rustenburg – Die Marikana-tragedie, wat tot die dood van verskeie mynwerkers, polisiebeamptes en sekuriteitswagte gelei het, kon verhoed word indien alle belanghebbendes hul rolle doeltreffend vervul het, het die kommissie van ondersoek Maandag gehoor.
Adv. Ishmael Semenya vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens het gesê daar sal bewys word dat Lonmin, die betogers, mededingende vakbonde en die departement van minerale hulpbronne die "bloedvergieting" in Augustus kon verhoed.
"Ons het uit die staanspoor gesê die onvermoë van ander partye om hulle rol te vervul, kan nie die verlies van lewens in Marikana regverdig nie.
Semenya het verder gesê "indien ons hieruit wil leer en wil verseker dat dit nie weer gebeur nie, kan dit nie geïgnoreer word nie".
"Die tragedie kon verhoed word indien die betrokke partye hul rolle behoorlik vervul het."
Daar is bewyse dat Lonmin en werkers in Julie, buite die kollektiewe bedingingsproses, 'n ooreenkoms bereik het.
Die maatskappy het later geweier om in Augustus oor nóg 'n loondispuut te onderhandel.
"Hulle [Lonmin] het aangevoer dat die betoging onwettig was en dat hulle nie bereid was om buite die bedingingsprosesse te onderhandel nie. Die teenstrydige benadering kon dalk die verkeerde boodskap aan werkers uitstuur," het Semenya gesê.
"Die werkers het geglo hulle kon meer ná 'n gewelddadige betoging bereik. Lonmin het die probleem veroorsaak," het Semenya gesê.
Die maatskappy het nie genoeg gedoen, soos uiteengesit in die mynbouhandves, om voldoende verblyf aan sy werkers te verskaf nie. Die departement van minerale hulpbronne het ook versuim om die behuising en lewenstandaarde, wat in 2009 ontwikkel is, te implementeer.
"Die duidelike versuiming om vordering [oor die implementering] te monitor, kon bygedra het tot die gebeure wat die tragedie veroorsaak het," het Semenya gesê.
Semenya het ook aangevoer dat gewelddadige gevegte tussen die National Union of Mineworkers en die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) voor die bloedvergieting op 16 Augustus aangemeld is.
"Die vraag wat ontstaan is, 'watter rol het vakbondleiers gespeel om die situasie te verbeter?'. Ons sal aanvoer dat die leiers baie min of niks gedoen het nie."
In verwysing na die onwettige byeenkomste, wat bygedra het tot die gewelddadige gevegte, het Semenya gesê hulle sal bewys dat burgers se reg om vrylik te vergader, "nie buite die raamwerk van die wet vasgestel kan word nie".
"[Die feit dat die betogers] wapens gedra het, op die polisie afgestorm het, die vernietiging van eiendom en die moord op polisiebeamptes en sekuriteitswagte, kan nie in 'n grondwetlike demokrasie regverdig word nie.
"Daar sal aangevoer word dat die vakbonde 'n morele plig het om dissipline onder hul lede te handhaaf."
Die polisie het op 16 Oktober op 'n koppie in Nkaneng losgebrand op 'n groep stakende mynwerkers. Altesaam 34 mynwerkers is dood en 78 gewond.
Die werkers was gewapen met knopkieries, pangas en stokke.
Werkers by Lonmin se Marikana-myn het op 10 Augustus begin staak en 'n maandelikse salaris van R12 500 geëis. Tien mense, waaronder twee polisiebeamptes en twee sekuriteitswagte, is binne vier dae dood.
Semenya het gesê die polisie se bewyse sal toon dat sommige van die stakende 'n werkers 'n bloedbad wou hê en dat die polisie na die beste van hul vermoë opgetree het in 'n moeilike situasie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA