Marikana-ondersoek binne vier maande afgehandel
2012-09-21 15:23
Pretoria – Die ondersoek na die skietery by Lonmin se myn in Marikana in die Noordwes sal binne vier maande afgehandel wees, het Jeff Radebe, die minister van justisie, Vrydag gesê.
“[Pres. Jacob Zuma] het baie streng raamwerke aan hierdie komitee gegee, naamlik die afhandeling van die ondersoek binne vier maande van die dag wat dit begin is.”
Die ondersoek sal op 1 Oktober begin, het Radebe gesê.
Radebe het met verslaggewers in Pretoria gepraat oor die Marikana-ondersoekkommissie.
Zuma het in Augustus ‘n geregtelike ondersoekkommissie aangekondig om die myngeweld waarin 44 mense in Marikana dood is, te ondersoek. Nog twee mense is sedertdien dood.
Die komitee sal ondersoek of Lonmin op gepaste wyse gereageer het op die moontlikheid van geweldpleging op sy perseel.
“Hierdie tragiese voorvalle oorheers berigte in die media en het ook internasionaal nuus gemaak,” het Radebe gesê.
Hy sê Zuma ag dit as belangrik dat die kommissie die voorvalle, wat in die openbare, nasionale en internasionale belang is, ondersoek om gepaste voorstelle te maak.
Die kommissie moet die rolle wat deur Lonmin, die polisie, die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) en die National Union of Mineworkers (NUM) gespeel is, ondersoek.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA