Marikana-mynwerkers 'wou bloedbad hê'
2012-10-22 12:45
Rustenburg – Die gebruik van geweld by Marikana was die laaste uitweg, het die kommissie van ondersoek na die Marikana-menseslagting Maandag gehoor.
"Dit het gebeur, ten spyte van spesifieke scenariobeplanning deur senior generaals," het adv. Ishmael Semenya vir die Suid-Afrikaanse polisiediens gesê.
"Die polisie was gefokus op een uitkoms: 'n vreedsame resolusie."
Semenya het gesê die polisie het geen moorddadige bedoelings gehad nie."
Hy het die openingstelling aan die kommissie uitgelees en die polisie se saak en die bewyse wat voorgelê sal word, uiteengesit.
Die polisie het op 16 Oktober op 'n koppie in Nkaneng losgebrand op 'n groep stakende mynwerkers. Altesaam 34 mynwerkers is dood en 78 gewond.
Die werkers was gewapen met knopkieries, pangas en stokke.
Werkers by Lonmin se Marikana-myn het op 10 Augustus begin staak en 'n maandelikse salaris van R12 500 geëis. Tien mense, waaronder twee polisiebeamptes en twee sekuriteitswagte, is binne vier dae dood.
Semenya het gesê die polisie se bewyse sal toon dat sommige van die stakende 'n werkers 'n bloedbad wou hê en dat die polisie na die beste van hul vermoë opgetree het in 'n moeilike situasie.
Die polisie se bewyse sal ook toon dat daar voor die skietery, verskeie pogings was om die mynwerkers te oorreed om hulself te ontwapen.
"Hulle het geweier en na die koppie gegaan, waar twee polisiebeamptes dood en een ernstig beseer is.
"Hulle het ook die polisie van twee pistole, 'n R5-geweer, 'n tweerigtingradio en ammunisie beroof," het Semenya gesê.
Traangas, granate en rubberkoeëls is gebruik om die mynwerkers uiteen te jaag.
"Nie een van dié maatreëls het die stakers afgesit nie," het hy gesê.
Twee dae voor die skietery het die polisie en die mynwerkers met onderhandelings begin, en die mynwerkers is gevra om hulself te ontwapen.
Semenya het gesê teen 13:30 op 16 Augustus het die polisie die besluit geneem om die betogers teen 15:30 te ontwapen en uiteen te jaag.
Die mynwerkers is gewaarsku om nie verder as 'n versperring te beweeg nie, maar die mynwerkers het dié waarskuwing geïgnoreer. Hulle het drie keer probeer, het Semenya gesê.
Hoewel traangas, granate, waterkanonne en kubberkoeëls gebruik is, het mynwerkers hulself beskerm deur hulself in komberse en ekstra klere toe te draai.
Tydens die derde poging het die mynwerkers verby die polisie se versperring beweeg.
"Beamptes van die taktiese reaksie-eenheid het sonder instruksies, met skerp ammunisie losgebrand op die betogers. Ongelukkig het 16 mense gesterf."
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA